Winkelsentrum word weelde-sentrum

Die welbekende Menlyn-winkelsentrum in Pretoria word binnekort opgegradeer na ’n weelderige inkopiesentrum.

Die winkelsentrum wat in 1979 opgerig is, sal ’n gedaanteverwisseling ondergaan met die R2miljard wat geoormerk is vir die aanbouings en opgradering van bestaande winkels en loopgange.

Die opgradering sal glo in fases gedoen word, en die aanbouing gaan die sentrum vergroot van 118,283 m² tot ’n allemintige 170,000 m², wat dit die grootste sentrum in Suid-Afrika sal maak.

Die Menlyn-sentrum se eienaars, Pareto (50%) en Old Mutual (50%) wil glo die sentrum opgradeer tot ’n ultra-moderne kompleks wat uit 450 winkels sal bestaan sowel as ’n reeks kantore en selfs ’n kleiner, 4-ster hotel.

Bo en behalwe dié uitbreidings, word daar ook beplan om mettertyd ’n parkeerruimte op te rig op die hoek wat gevorm word van die N1 snelweg en Atterburyweg, wat ’n vêrdere R1 miljard kan kos.