Wes-Transvaal dankbaar oor reën

Boere in Wes-Transvaal het die uitkoms van milde reën as ’n genadegawe uit die Hand van die Here beleef toe wydverspreide reëns die gebied verlos het uit ’n versengende hittegolf en lang droogtetyd.

Die wonder van die uitkoms is dat die meeste reën redelik sag en deurdringend was, wat erge verspoelings verhoed het weens die afwesigheid aan gewasse wat noodsaaklik is om erosie te verhoed.

Voor die koms van die reën, het die streek sy grootste droogte sedert die groot droogte van 1933 beleef, en diere moes van kant gemaak word omdat daar nie voer beskikbaar was nie.

Aangeplante oeste het oornag verander van ’n moontlike totale misoes tot een wat die belofte inhou van ’n reuse oes.

In die Makwassie en Christiana distrikte is nog min reën ontvang, terwyl gebiede soos Delareyville oor die 300 mm gekry het.

Voerskenkings word nou toegedeel aan die gebiede waar daar nog moontlike hulp verleen moet word, maar dit is tot enkele distrikte beperk, het ’n landbou woordvoerder gesê.

Foto – Bloemhofdam