Wanvoorstellings

Om die fyner kunsies van die liberaliste te verstaan, moet jy dikwels vir ’n oomblik fyn luister na wat gesê word, en moet jy dan nog fyner kyk om te sien wat gedoen word en dit dan beoordeel teen wat gesê was…

Die grootman van Solidariteit, die multi-kulturele vakbond, het nou sy spanmaat Beeld en Nuus 24 so-so vermaan oor die hele saak van die “Heil Hitler verhaal” van Potchefstroom, en die koerant beskuldig daarvan dat hy ’n aanval op Afrikaans en die laaste Afrikaanse Universiteit gedoen het.

Dit het glo ’n vertrouensbreuk veroorsaak.

Daaruit lei mens af dat Flip en Tim in vertroue met mekaar geleef het – maar dit het nou verander, want nou is daar ’n vertrouensbreuk…

Nou toe nou!

Blykbaar is daar nog nie ’n vertrouensbreuk met die FW de Klerk-stigting nie!

Dan is daar diegene wat glo dat Malema en die vakbond Numsa die stemme so erg gaan verdeel in die verkiesing van 2019, dat die ANC uit die kussings gelig gaan word.

Dit mag so wees, maar ook hierin is wanvoorstellings – nie een van daardie partye hou iets goeds in vir die Boere-Afrikaner nie.

Numsa en EFF het nie verniet hulle kleur gekies nie – rooi is die kleur van die kommunis, en beide praat gedurig van nasionalisering….

Die oorlog teen Naspers wat uit bepaalde hoeke geïnisieer word, is sekerlik ’n oorlog wat moeilik gewen kan word as jy nie oor die nodige oorlogsmateriaal beskik soos grofgeskut en atoombomme nie –  en dan is dit waarskynlik meer belangrik om te bly fokus op dit wat wel bevorder moet word, en liefs nie energie vermors op ’n oorlog wat dalk nooit gewen gaan word nie.

Let op hoe word die dinge bestuur –  op die oomblik word alles moontlik gedoen deur sekere koerante om beskuldigdes reeds skuldig te bevind voor die hof dit doen, want dit bring geld in die sak van hulle wat deur wanvoorstellings ’n lewe voer….

Dan is daar die wanvoorstelling deur die liberale media dat die Russiese president die aggressor is in die Oekraïne – dit is alles behalwe waar! Die wanvoorstelling dat die VSA die mense van die Oekraïne te hulp snel, is vêr van die waarheid. Mense moet maar weer al die feite nagaan….

Daar is ook die ander wanvoorstelling, dat Calvyn nie ’n Protestant was nie, dat hy van Joodse afkoms is…

Die wanvoorstelling deur ’n paar linkses dat Die Vryburger aan een of ander politieke party gekoppel is, is dalk die grofste van al die wanvoorstellings…

Dit is, om dit reguit te stel – ’n blatante leuen!

Maar waar sal ons eindig met al die wanvoorstellings?

Dit laat die gevoel dat hierdie rubriek ook nie soveel tyd moet afstaan aan die wanvoorstellings van die linkses nie – veel eerder fokus op die pragtige gebeure in ons volkslewe, soos byvoorbeeld die gebeure die afgelope naweek daar by Majuba, waar ’n paar duisend mense weer positief gekyk het na die welslae van weleer, om dan daaruit te put vir die stryd van die toekoms….