Voëls laat Boeing noodlanding doen

Die Cathay Pacific se Boeing met meer as 200 passasiers aan boord moes verlede Sondag baie vinnig van sy brandstof uitlaat oor Tembisa, ’n swart woongebied in Sentraal Transvaal, nadat ’n swerm voëls in die een vlerk van die straler vasgevlieg het.

Die vliegtuig moes daarna ’n noodlanding doen by die Johannesburgse Internasionale Lughawe weens die beskadiging van een van die motore.

Ooggetuies sê hulle kon sien hoe rook uit een van die motore borrel voor dit ’n suksesvolle noodlanding kon uitvoer waartydens geen passasier beseer is nie.

’n Vlieënier het aan Die Vryburger gesê dit is noodsaaklik vir enige vliegtuig om van ’n gedeelte van sy brandstof ontslae te raak voor ’n noodlanding gedoen kan word aangesien die tuig baie ligter moet wees voor dit wel kan land.

Hy sê ’n vliegtuig so groot soos ’n Boeing behoort sowat 35 ton brandstof uit te laat om die gewenste gewig te kry vir die noodlanding.

Die passasiers is vir ander vlugte geskeduleer, en van hulle was genoodsaak om te oornag in ’n hotel in Johannesburg.