Verskans strategies teen onsekerheid

Sedert TLU SA die Memorandum van Ooreenkoms met die Georgiese regering onderteken het in Augustus 2010 het vele geleenthede ontsluit vir Suid-Afrikaners in Georgië sê die Hoofbestuurder van TLU SA, mnr. Bennie van Zyl.  

Die aanvanklike rede vir die samewerking was om behulpsaam te wees met die herstel van hulle landbou nadat hulle 70 jaar onder die Sowjet-unie se sosialisme en kommunisme gebuk gegaan het.

TLU SA se standpunt was deurlopend dat ons boere hulle eie plase in Suid-Afrika in volle produksie moet hou en ook moet toesien dat die jongste en beste nagevorsde tegnologie deel van hul boerdery gemaak moet word ten einde hul mededingendheid te behou en selfs te verbeter.

Elke ondernemer moet strategies na hul risiko’s kyk en daarom is dit goed om ekstra kapasiteit buite landbou te belê.  In dié verband is Georgië ‘n plek wat gunstig oorweeg kan word.

Inligtingstoere word van tyd tot tyd in samewerking met die Georgiese regering gehou waar persone die geleentheid kry om hulself te vergewis of dit wel vir hul ‘n beleggingsgeleentheid sou kon wees.  Die toere word so aangebied dat ‘n baie goeie oorsig oor die land en al sy geleenthede ervaar word.

Die volgende toer word aangebied vanaf 29 Mei – 7 Junie.  

Die totale koste afhangende die wisselkoers sal in die omgewing van R20000 beloop wat retoerkaartjies, administratiewe fooi, hotelkoste, toegangsfooie, toergids sowel as vervoer insluit.  Vir meer besonderhede kan navraag gedoen word by [email protected]