Vermoorde egpaar se lyke gevind

’n Bejaarde egpaar van Valhalla, Pretoria, Herman en Christine Pienaar, se lewelose liggame is in hulle woonhuis gevind nadat ’n bediende aanvanklik nie antwoord kon kry by die huis nie.

Sy het op die lyke afgekom toe sy uit radeloosheid die huis ingegaan het, waarna sy inderhaas na die bure gegaan het met die afgryslike nuus.

Die bure het die polisie geskakel.

Die vermoede bestaan dat die moorde in die laatmiddag of nag plaasgevind het.

Die egpaar se seun, Herman Jr. wat geruime tyd by hulle gewoon het, word vermis en die polisie het ’n soektog na hom begin.

’n Buurman sê hy het Herman Jr. (35) sien ry met sy ma se motor, en het dit vreemd gevind aangesien hy nie toegelaat word om met die motor te ry nie.

Die egpaar se kluis is ongeforseerd oopgemaak, en twee vuurwapens word vermis.