Verdediging – uitkoms is in sig

Die Minister van Verdediging, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, sê sy is nie bekommerd oor die huidige klaaglike stand van die verdedigingsbegroting nie, want uitkoms is in sig.

Tydens ‘n mediakonferensie op die Waterkloof-lugmagbasis in Pretoria het sy gesê die Verdedigingsoorsig, wat die magsontwerp van die weermag van die toekoms bepaal, gaan moontlik op ’n sneltrajek direk aan die parlement voorgelê word vir goedkeuring. 

Die oorsig het reeds voor ’n kabinetskomitee ge­dien en sy reken dat om daardie rede gaan dit dalk die stap om voor die kabinet te dien, oorslaan.

Sodra die oorsig aanvaar is, is daar ’n bloudruk om vir die weermag en sy toerusting op kort, medium- en lang termyn te begroot.

Mapisa-Nqakula het op ’n vergadering met die 250 mees senior offisiere en adjudant-offisiere oor die land heen gepraat oor dissipline en korrupsie in die weermag. Dit is die eerste keer sedert 1994 dat so ’n omvattende konferensie gehou word. Die (nuwe) weermag is nou 20 jaar oud. Dit is tyd dat hulle moet kyk hoe hulle gevaar het en dan beplan vir die pad vorentoe, het sy gesê.

Sy het ook haar kommer uitgespreek oor die slapheid, korrupsie en ander kwessies wat die weermag aftakel. Sulke dinge kan die goeie werk van die afgelope 20 jaar ongedaan maak.

Mapisa-Nqakula is verder bekommerd oor die vervalle toestand van die weermag se geboue, hospitale, kasernes en die meeste basisse, maar is trots op ‘n besparing van R18 miljard oor die afgelope tien jaar.

Foto – Nosiviwe Mapisa-Nqakula