Twee mynbestuurders aangekeer

Ettiene Erasmus, alias Wynand Nortjé, mynbestuurder van die Blyvooruitsicht-goudmyn en Sarel Barkhuizen, bestuurder by die myn se goud-smeltery het in die landdroshof in Carletonville verskyn op aanklagte wat daarmee verband hou dat hulle dié myn se bates geplunder het.

Die twee is nie gevra om te pleit nie. Barkhuizen is op R50,000 borgtog vrygelaat en Erasmus bly in aanhouding totdat die twee weer op 17 Maart in die hof verskyn.

Volgens ’n woordvoerder van die Valke, is Erasmus en Barkhuizen verlede Vrydag in hegtenis geneem weens die onwettige besit van goud, diefstal, bedrog en dwarsboming van die gereg.

Sowat 1,3 kg goud is glo in Erasmus se huis in Carletonville gekry.

Die Valke het beslag gelê op Erasmus se skootrekenaar, selfone en verskeie dokumente. Erasmus word daarvan beskuldig dat hy ou skroot en ander myntoerusting wederregtelik verkoop het. Die myn is tans in likwidasie en alle bates behoort aan die likwidateurs, het Leigh Roering, ’n likwidateur, gesê.

‘n Aanbod van R70 miljoen deur Goldrich is deur die likwidateur aanvaar, maar Goldrich het nog nie die geld op die tafel gesit nie.

Goldrich behoort aan onder andere Thulani Ngubane en sy adviseur Faizel Bhana, wat albei destyds by die Aurora-skandaal by die Grootvlei-myn aan die Oos-Rand betrokke was. Hulle was destyds direkteure van Aurora saam met pres. Jacob Zuma se neef Khulubuse en oudpres. Nelson Mandela se kleinseun Zondwa Mandela.

Aurora het die ou Pamodzi-myne, Grootvlei en Orkney, in 2009 gekoop en belowe om dit op te hef. Die myne is egter gestroop. Die totale skade aan Grootvlei en Orkney word bereken op R1,5miljard. Dit sluit in toerusting en goud wat gestroop is en duisende werkers se salarisse wat nooit betaal is nie.

Leigh Roering het gesê hy bring ’n dringende aansoek in die hooggeregshof om Goldrich as Blyvooruitsicht se eienaars te verwyder. Na wat verneem word staan Goldrich die aansoek teen.