Teenmiddel vir heroïen verslaafdes

Die stygende sterftes weens die gebruik van dwelms, en in besonder weens heroïen of kragtige pynstillers, het die Amerikaanse regering, in samewerking met klinieke begin werk aan ’n doeltreffende teenmiddel wat ’n oordosis sal teenwerk.

Die bekendmaking hiervan het tot hewige debatte gelei tussen diegene wat glo dit sal dwelmmisbruik verder stimuleer, en die ander wat sê so ’n middel word noodsaaklik wat deur paramedici, dokters en die polisie benodig word om lewens te red.

Die verbruikers van dwelmmiddels is self ook ten gunste van so ’n teenmiddel.

Tans is 17 deelstate ten gunste daarvan, en word ’n produk, bekend as Narcan reeds aan die dwelmgebruikers verskaf.

Daar is selfs deelstate wat ’n stap verder gaan deur die middel aan vriende en familielede beskikbaar te stel.

Die middel kan egter net voorgeskryf word indien die verbruiker opleiding ontvang het om die toediening te hanteer. Die toediening kan per inspuiting of met ’n neussproei gedoen word.

Die preparaat werk uiters ingewikkeld want dit leer die liggaam om aan te hou asemhaal wanneer heroïen toeslaan en die brein nie meer aan die liggaam voorskryf om asem te haal nie en dus “vergeet” om asem te haal 

Die middel blokkeer seine van die brein sodat die liggaam kan aanhou asemhaal.

Familie en vriende kan ook registreer om die teenmiddel te bekom sodat dwelmverslaafdes daarmee gehelp kan word wanneer hulle ’n totale oordosis geneem het en nie self die teenmiddel kan aanwend nie.