Suur-mynwater stroom in Hartbeespoortdam

Kort na die R300 miljoen opgedok is deur belastingbetalers om te verhoed dat die besoedeling met suur-mynwater in opgaardamme verder toeneem, het miljoene liter suurwater uit ou skagte gestroom as gevolg van die swaar reën van die afgelope week.

Na raming het sowat 18 miljoen liter suurwater reeds hulle weg gevind na die Tweelopiespruit, wat uiteindelik deurloop in die Krokodilrivier na die Hartbeespoortdam.

Kenners sê dit is ’n ramp wat ’n herhaling is van die gebeure in Januarie 2012.

In 2012 moes die departement die mynwater na ’n aanleg pomp waar dit behandel is om die suur te neutraliseer waarna dit vrygestel kon word.

’n Woordvoerder van die Federasie Volhoubare Omgewing (FVO), sê dat baie geld en ure se harde werk verlore is, aangesien ’n soortgelyke situasie nou weer afspeel.

Die Departement beskik net oor ’n vermoë om by die betrokke aanleg sowat 30miljoen liter water te behandel.

Dit beteken dat nog meer pompe benodig word aangesien die swaar reën se uitwerking nie voorsien kon word nie.

’n  Waterkundige sê die pogings wat tot hede toegepas is om die suurwater-probleem vas te vat, het nie gewerk nie en dit is tyd dat nuwe, beter planne gemaak word.