Skiet om te dood!

Volgens ’n Engelstalige koerant is die polisie weer die afgelope naweek aangevuur om te skiet as hulle lewens bedreig word, en dan moet hulle skiet om dood te skiet.

Die polisie moet skiet, want daar kan nie gedurig begrafnis gehou word van polisiebeamptes wat doodgeskiet is deur misdadigers nie.

Dit is die woorde van die adjunk-kommissaris, Zamuthonga Mki, aan toehoorders tydens die begrafnis van Thembile Gulwa, ’n voormalige polisiebeampte.

Gulwa is in Februarie doodgeskiet naby Kinkelbos, Port Elizabeth en ’n 37-jarige swarte is later in hegtenis geneem.

Sowat ses ander verdagtes word nog deur die polisie gesoek in verband met die moord.

Die omstrede Bheki Cele, voormalige polisiehoof van die land, het die wereld geskok toe hy by geleentheid gesê het hy wil die wetgewing verander sodat die polisie "kan skiet om dood te skiet."

Politieke waarnemers het daarna gesê dit blyk asof sekere polisiebeamptes steeds glo hulle moet optree volgens Cele se siening, vandaar die slagting by Marikana.