Sit jou voet neer!

Suid-Afrika se poging om van die Oscar Pistorius saak ‘n OJ Simpson ding te maak is genoeg om selfs die mees skaamtelose mense se wangetjies skarlaken te verkleur. Blykbaar sal dit die wêreld insig gee in die regstelsel van Suid Afrika. Die hardnekkige gevangehouding van ‘n 78 jarige Oom Clive, ten spyte van ernstige siekte, aanvalle, modeloptrede en paroolaanbevelings van die paroolraad, is egter reeds oorgenoeg vir die wêreld om te kan sien dat sekere diere in die land voor die gereg meer gelyk is as ander. Net om egter seker te maak dat niemand die belaglike gedagte ontwikkel dat almal gelyk behandel word nie, is ook parool verleen aan gimnasiumfrikkie en sy oefenmaat vir ‘n goeie bedrag……ek bedoel goeie gedrag.

Veral indie lig daarvan dat die sterwende ou Shabir se terminale siektetoestand nou al vir etlike jare ten minste 3 meter van sy bofhoue afhaal en Selebi se siekte nou nie juis vir Stephen Hawking soos superman laat lyk nie, wonder mens hoeveel van hierdie stelsel jy nou juis vir die wêreld wil wys.

Niemand kan seker met sekerheid sê of Oscar ‘n voet het om op te staan nie. Dis te vroeg om te sê of hy op vrye voet sal wees na afloop van die saak en of hy hom eerder uit die voete moes maak toe hy parool gekry het. Wat wel seker is, is dat as Suid Afrika wens om ‘n OJ saak hiervan te maak is dit waarskynlik wat hulle gaan kry. Die OJ saak is immers bekend daarvoor dat dit heel duidelik op skandalige wyse verkeerd beslis het en daar is ‘n groter kans dat Nataniël ‘n springbok kontrak sal kry as dat die Pre-Primêre Akademie van Azanië se regstelsel die regte uitspraak sal maak.

Die saak bied wel vir die hele land wel afleiding aangesien dit op meer plekke uitgesaai word as enige ander werklikheidsreeks en die hele wêreld se kykers vasgenael sit en wag vir die deel waar die mense die kokkerotte moet eet.

Dit is egter nou genoeg van hierdie nonsens. Mens kan nie so belangrike saak laat begin voor die verkeerdstelsel nie reggestel is nie! Ek weet nie van Oscar nie, maar ek sou hieroor my voet neergesit het!

Tot volgende slag

Die Sweep