Sinkgate aan die Wes-Rand

Twee reuse-sinkgate het op paaie aan die Wes-Rand ingeval.

Wiekus Myburgh, bestuurder van nooddienste by die Westelike Distriksraad het gesê een sinkgat het langs en gedeeltelik onder die R500 tussen Carletonville en Randfontein ontstaan. Dié pad is intussen vir verkeer gesluit en ’n ander roete oor ’n nabygeleë plaas in die omgewing is oopgestel.

Die sinkgat van ongeveer 17m diep en 20m in deursnee het feitlik ‘n hele telefoonpaal ingesluk.

Die ander sinkgat het sowat tien dae gelede op ’n plaaspad in die omgewing van Tarlton ingeval. Volgens ’n wetstoepasser van die Departement van Omgewingsake is dié sinkgat sowat 30m diep, 40m lank en 60m breed. Dit het ingeval op Greenway Farm, ’n plaas bo-op die Steenkoppies- dolomitiese kompartement.

Die Blou Skerpioene is besig met ‘n ondersoek omdat hulle vermoed dat afloopwater is gekanaliseer en in ‘n boorgat gepomp om te voorkom dat landerye verspoel. Die sinkgat het sowat 25m van die naaste huis ingeval.

Verskeie krake in die omgewing van die sinkgat wys daarop dat nog gate hier kan inval.

Garfield Krige, geoloog en waterwetenskaplike, het gesê die sinkgat by die R500 is vermoedelik veroorsaak deur ­reënwater wat oor etlike jare op die pad versamel het en stelselmatig deur die dolomitiese kors gevreet het.

Foto – Erkenning aan Beeld