Seun uitgevang oor ontvoering

’n Jong seun van 15 jaar is in die Boksburg landdroshof aangekla van meineed en regsverydeling nadat hy per sms aan sy ma laat weet het dat hy ontvoer word en dat sy ontvoerders R2,000 as losprys eis.

Dit het veroorsaak dat die polisie ’n wye soektog aan die gang moes sit om die seun op te spoor nadat sy ma die polisie van die “ontvoering” verwittig het.

Die losprys moes by die Rondebult-brug in Boksburg afgelewer word.

Die polisie het ’n spesiale taakspan saamgestel en versterkings is ingebring tesame met ’n onderhandelaar om die gyselaar se bevryding te hanteer.

Polisiebeamptes het die “ontvoerders” voorgelê by die brug, en op die bestemde tyd het die seun self opgedaag om die losprys af te haal, waar hy sommer in hegtenis geneem is. Hy sal weer Vrydag in die landdroshof verskyn, maar is intussen in sy ouers se sorg gelaat.