Rwanda moord-veldtog word verleentheid

President Zuma het met ’n versigtige woordkeuse probeer aandui dat die Rwandese diplomate in Suid-Afrika betrokke was by sekere ongerymdhede in die land.

Alhoewel politieke ontleders meen dat die aangeleentheid ’n aanwysing mag wees dat Suid-Afrika se buitelandse beleid nie ’n sukses is nie, het die president, sonder om breër uit te brei, die teendeel probeer sê.

Hy het tydens ’n onderhoud gesê die land doen goed wat betref sy internasionale beleid en daarop gewys dat Rwanda nie as voorbeeld geneem kan word nie.

Die woede van pres. Zuma was blykbaar ’n verleentheid vir die hele ANC nadat hy ingelig is dat pres. Paul Kagame van Rwanda se mense vir etlike jare besig is met ’n moord veldtog in Suid-Afrika teen talle Rwandese vlugtelinge.

Ontleders is van oordeel dat die moord-veldtog ook daarop dui dat die veiligheidsmagte nie hulle vinger op die pols het van gebeure in die land nie.

Dit word gevolglik ’n verleentheid wat ook die potensiaal het om ander lande af te skrik om betrokke te raak in Suid-Afrika.