Rusland waarsku leier van Oekraïne.

Rusland het by monde van die Speaker van die laer huis, Sergey Naryshkin, die selfaangestelde president van die Oekraïne, Aleksandr Turchinov, gewaarsku dat indien hy geweld teen die suid-oostelike inwoners van die Oekraïne sal gebruik, hulle hom as ‘n oorlogsmisdadiger sal sien.

Tydens ‘n telefoniese gesprek tussen die twee het Naryshkin ook vir Turchinov gewaarsku om nie die weermag teen diegene wat teen sy "bewind" is, te gebruik nie.

Die Russiese Fereraleraad het reeds verlede week toestemming aan President Wladimir Poetin gegee dat hy die militêre magte mag gebruik om etniese Russe in die Krimea te beskerm.

Intussen het Turchinov die gewapende magte ontplooi om die veiligheid by kernkrag sentrales, lughawens en ander plekke teen "Russiese aggressie" te beskerm.

Politieke kommentators meen dat dit onwaarskynlik is dat Turchinov troepe na die Krimea sal stuur, maar die retoriek wat hy gebruik is besig om spanning te eskaleer. Hulle wys daarop dat sedert die wettige regering omver gegooi is, het die geld van die Europese Unie (EU) nie gematerialiseer nie. Gevolglik raak hulle desperaat en die desperaatheid wys in die histeriese waarskuwings teen Rusland wat nou die vyand en aggressor is.

Die krisis in die Oekraïne het vererger nadat ‘n rewolusie die president, Viktor Yanukovich, geforseer het om die land te verlaat. Die verdere ontwikkelings was a.g.v. die oproep deur die Eerste Minister van die Onafhanklike Republiek van die Krimea, Sergey Aksyonov, wat Rusland se hulp gevra het om te help om die gebied stabiel te hou.

Die eerste "wet" wat die selfaangestelde regering in Kief geproklameer het, was om alle ander tale in die gebruik van amptelike dokumente te verbied. Die gevolg hiervan was opstande in die Oos-Oekraïne, waar ‘n groot etnies Russiese kontingent bly en Russies die taal is wat deur die grootste groep mense gepraat word.

Bedreig deur ‘n "nuwe regering" met bedenklike legitimiteit, het ‘n paar provinsies in opstand gekom. Duisende uit hierdie gebied loop deur die strate met Russiese vlae en moedig die plaaslike owerhede aan om Kief se opdragte te verontagsaam.

Rusland het ook bedenkinge oor die selfaangestelde regering in Kief en het die naweek die aangeleentheid verwys na die Venesiaanse Kommissie van die Raad van Europa, asook die Interparlementêre Vergadering van die Gemenebes van Onafhanklik state, waar die parlementariërs van die vorige republieke van die Sowjet-unie, vergader.

Foto – President Wladimir Poetin