Regter Kriegler sê RDK sloer

Regter Johann Kriegler sê die Regterlike Dienskommissie (RDK) laat Suid-Afrikaners in die steek deur jare te sloer om dissiplinêre ondersoeke teen regters af te handel. 

Die eerbaarheid van die regbank is nie onderhandelbaar nie en moet te alle tye met bekwame spoed beskerm word, het regter Johann Kriegler in ‘n toespraak voor die Vryemarkstigting gesê.

Volgens Kriegler is die hele proses waardeur regters aangekla word onnodig omslagtig en ingewikkeld gemaak. Dit het veroorsaak dat die werklike dissipline van regters verlore gaan.

Hy het verwys na die verrigtinge van die tribunale wat klagte teen regters aanhoor wat opgeskort is hangende ’n hofbeslissing oor die grondwetlikheid van ’n bepaling in die Wet op die Regterlike Dienskommissie.

Die hangende saak raak klagte wat by die RDK aanhangig gemaak is teen ses regters, waarvan die bekendste die klagte teen die Wes-Kaapse regter-president John Hlophe en regter Nkola Motata van die hooggeregshof in Pretoria is.

Hy sê dat indien daar ‘n situasie ontstaan waar senior regsbeamptes wie se optrede onder ernstige verdenking is, toegelaat word om steeds sake aan te hoor of om ná jare steeds ’n salaris te trek, moet die afleiding gemaak word dat daar iets ernstigs verkeerd is.

Reeds in 2004, toe Hlophe vir die eerste keer deur die RDK berispe is, sê Kriegler het hy voorspel dat dit  nie die laaste keer sou wees dat daar van hom gehoor word nie.

In 2008 het regters Chris Jafta en Bess Nkabinde van die konstitusionele hof Hlo­phe verkla omdat hy hulle glo in vier sake voor die hof in die guns van pres. Jacob Zuma wou beïnvloed.

Kriegler het gesê dat ses jaar later is Hlophe steeds op die regbank en daar is steeds nie feitelike bevinding oor die ernstige aantygings wat hoogs onbehoorlik is vir ’n regter wat gemaak word nie. Wat beweer word, kom neer op regsverydeling, iets waarvoor tronkstraf gepas is.

Foto – Johann Kriegler