Rampokkersindikaat se prokureur loop

Die 17 lede van die Msimango-sindikaat wat teregstaan op aanklagte van rampokkery, goudsmokkelary, bedrog en geldwassery van R10 miiljoen is hulle regspan kwyt omdat hulle hom nie kan betaal nie.

Adv. Johann Nel en sy opdraggewende prokureur, Neil Schoeman van Schoeman en Steyn-prokureurs van Welkom, het gesê die beskuldigdes is nie in staat om sy regskoste te betaal nie.

Regter Johann Daffue het hom van die verhoor verskoon. 

Adv. Pieter Nel van die Regshulpraad sal waarskynlik op 24 Maart vir hulle optree wanneer die verhoor hervat. Regter Daffue het die beskuldigdes beveel om met Pieter Nel kontak te maak. Nel sal die drie wat aangehou word, in die tronk gaan spreek.

Die drie Msimango-broers, Sibusiso, Rise (31) en McDonald (28), van Thabong by Welkom, en hul 14 vermeende sindikaatlede het skuld op 132 aanklagte ontken. Die ander Msimango-broer, Andrew (44), is in 2012, net voordat die verhoor begin het, in ’n motorongeluk by Bothaville dood. Sy vrou, Rose, is een van die ander beskuldigdes.