Poetin soek nie oorlog nie

In ‘n perskonferensie vandag het die president van Rusland, Wladimir Poetin, gesê dat Rusland sal nie oorlog maak teen die Oekraïne nie, maar sal sy troepe gebruik om die inwoners te beskerm teen die radikales in Kief.

Putin wat reeds ‘n mandaat deur die Russiese senaat gegee is om militêre mag te gebruik om burgerlikes in die Oekraïne te beskerm, sê dit is op die oomblik nie nodig nie.

Hy het voorbeelde genoem van die optrede van die radikales in die Oekraïne waaronder hulle ‘n goewerneur vasgeketting het om hom in die openbaar te verneder asook die moord op ‘n tegnikus as rede vir Rusland om bekommerd te wees oor die lewens en welstand van die mense in die ooste en suidelike Oekraïne.

"Gekonfronteer met sulke dade van wetteloosheid wat nou ook in die oostelike provinsies gesien word, en indien daardie mense ons hulp vra, bykomend tot die pleit van ‘n wettige president wat nou in ons midde is, moet ons alles in ons vermoë doen om die inwoners te beveilig," het hy gesê.

Hy het herhaaldelik bevestig dat Rusland nie sal oorlog maak teen die mense van die Oekraïne nie.

"Enige besluit wat ons neem sal wees om burgerlikes te beskerm. Sou enige persoon in die weermag dit waag om op hulle eie mense te skiet? Skiet op vrouens en kinders?" het hy gevra.

Terselfdertyd het hy ook die VSA en sy bondgenote daarvan beskuldig dat hulle alle wettige optrede minag wanneer hulle militêre mag inspan in die bevordering van hulle eie nasionale belange.Hy sê elke keer wanneer hy hulle vra of hulle werklik glo dat wat hulle doen wettig is, sê hulle "ja," maar as hy hulle herinner aan Afghanistan, Irak en Libië, swyg hulle net. Hy sê die VSA in die besonder het die gewoonte om hulle eie belange genadeloos te bevorder en daarna die hele wêreld te betrek met die woorde: "julle is of met ons of teen ons."

Oor sanksies bekommer hy hom nie, sê Poetin, want sanksies maak alle partye seer. Dreigemente dat hulle nie die beplande G8-beraad in Sotjie gaan bywoon nie, is hulle saak.

Intussen hou hy alle opsies oop. Hy het gewaarsku dat indien die Oekraïne ‘n rewolusie ondergaan het, soos die weste volhou, en dit nie net volgens sy waarneming ‘n coup de tat was nie, sal die nasie wat uit die rewolusie kom nie dieselfde een wees as voorheen nie. Presies soos wat in Rusland na die 1917 Bolsjewistiese Rewolusie gebeur het.

Indien dit die geval is, mag Rusland besluit om hom nie meer gebonde te voel aan enige van die ooreenkomste wat tans met die Oekraïne bestaan nie.

Foto – Pres. Poetin