Nuwe ambulanse bring besparing

Die operasionele bestuurder van die Sentraal Transvaalse nooddienste het bekend gemaak dat die ultra-moderne ambulanse wat aangekoop is, dié instansie gedurende die afgelope drie maande reeds R12 miljoen bespaar het.

Colin Errakiah, van die Nooddienste, het in Midrand gesê hulle het tot onlangs nie aktiewe ambulansdienste besit nie, en het hoofsaaklik van kontrakteurs gebruik gemaak om die besondere diens te lewer.

“Dit was egter ’n wyse besluit om ons eie MICU-ambulanse te koop in ’n poging om die stygende uitgawes te sny”, het Collin gesê.

Met die nuwe toerusting word mediese helikopters, wat ’n enorme koste faktor is, aansienlik minder gebruik.

“Ons het ons uitgawes vir 3 maande verminder van R14 miljoen tot R2 miljoen, wat ’n besparing van R12 miljoen is.”

Bo en behalwe die vier MICU-ambulanse is daar ook 20 obstetriese ambulanse aangekoop wat vir die vervoer van swanger vroue bedoel is.

Verder is sowat 100 gewone ambulanse aangekoop wat oor die hele Sentraal Transvaal ontplooi sal word.

Volgens die Direkteur van Hospitaaldienste in die provinsie is obstetriese ambulanse ultra modern toegerus soos ’n kraamsaal en swanger vroue, kan met veiligheid daarin geboorte gee.