Noord-Kaap boere is verlig

Toe die Noord-Kaapse boere die vrag veevoer aflaai van die vyf treintrokke, was hulle verlig en dankbaar vir die uitkoms.

Asof hulle ryklik geseën moet word, het swaar onweerswolke dieselfde dag begin saampak, wat die belofte van somerreën inhou.

Spanne plaaswerkers het fluks begin aflaai aan die bale voer wat uit die Wes-Kaap naby die Modderrivier spoorwegstasie aangekom het.

Alhoewel die eerste reën in ’n lang tyd oor die gebied begin val het, is daar nog ’n lang pad te stap voor die veld herstel het. Daarom is die veevoer vir die boere van groot waarde.

In die omgewing van Modderrivier het die eerste goeie neerslae geval, en die weer lyk belowend dat meer reën verwag kan word.

Een boer het per e-pos laat weet dat hulle reeds 65mm reën gehad het en dat daar steeds meer reën in die gebied verwag word.

Daar is egter groot dele wat nog nie ’n druppel reën gehad het nie, en daar sukkel die boere om hulle diere aan die lewe te hou.

In sekere dele van die provinsie het dit meer as drie jaar laas behoorlik gereën, en die veld is uitgeput.

Een boer, mnr. Paul Neethling van Langberg-gasteplaas vertel hoe hy reeds talle van sy wildtrop moes skiet en die jagtogte wat bespreek is, kanselleer.

“Die owerheid help ons geensins nie, en daar is duidelik geen politieke wil nie,” het hy gesê.

Die voer uit die Wes-Kaap stel die boere darem in staat om hulle diere lewendig te hou tot die reën kom, het een boer aan Die Vryburger gesê.

’n Boer wat baie dankbaar is vir die hulp uit die Wes-Kaap sê dit is van meer waarde as die bietjie hulp wat deur die regering aan Noord-Kaap se boere gegee is. Dit is ook bekend dat minstens een derde van die regering se geld vir droogtehulp aan swart vervoerkontrakteurs gegee is om die voer te versprei onder boere.