Nog tifoon slagoffers gevind

Na sowat vyf maande sedert die tifoon Haiyan sy verwoestende werk in die Fillipynse eilande verrig het, word daar nog steeds lyke onder wrakke en rommel gevind.

Met die herbou van vernietigde geboue, word rommel en wrakstukke verwyder, of herwin vir gebruik, wat werkers op talle ontbinde lyke laat afkom.

Die regering het intussen aangekondig dat sowat 6,200 mense omgekom het, maar dat daar nog sowat 1,800 mense gevind moet word wat moontlik nog onder puin begrawe is.

Die Filippyne het intussen skenkings van sowat R4 miljard ontvang maar het vertoë gerig om met minstens nog R4,5 miljard gehelp te word.

Die bekommernis bestaan dat die sowat een miljoen landbouers nie kan voortbestaan nie aangesien die tifoon meer as 32 miljoen kokospalms vernietig het.