Motor rubriek – Aston Martin Vanquish Volante

Wanneer aan Aston Martin gedink word gaan die gedagtes onwillekeurig na die dae toe James Bond op almal se lippe was. Die jongste in die Aston Martin reeks is die Vanquish Volante. Dit is inderdaad ’n besonderse motor wat bekend is daarvoor dat die bariton-klank wat by die twee uitlaatpype uitkom, wanneer dit aangeskakel word, die hare op ’n mens se arms laat regop staan. Die Vanquish se klank was hard maar die Volante se klank is nog harder. Dit is nie steurend nie en wanneer ’n mens dit hoor dan besef ’n mens dat hierdie ’n sportmotor van formaat is.

Dit is ’n motor waarin ’n V12 enjin gepas is wat en dit tesame met die afslaankap laat ’n mens vergeet van alle sorge. Alhoewel die wringkrag dieselfde is, kan die toere van die enjin in die nuwe motor hoër opgejaag word. Die sesgang outomatiese ratkas se oorskakeling is van so aard dat wanneer dit plaasvind, kom ’n mens dit eintlik nie agter nie. Dit is skerp dog seepglad.

Volgens die vervaardiger verseker die gebruik van koolstofvesel in die vervaardiging van die bak dat die bakwerk meer stabiel is en dit opsigself is ’n verbetering op die DB 9. Die padhouvermoë is aansienlik beter teenoor die DB 9 wat geneig was om meer bakrol te toon.

Binne-afwerking is van hoogstaande gehalte en wanneer die motor silwerkleurig geverf is, word rooi leerafwerking gebruik. Al die nodige instrumente is gepas en daar word gebruik gemaak van ’n Garmin GPS stelsel. Keramiek skywe word gebruik vir die remme en daar is nie probleme wanneer hierdie sportmotor tot stilstand gebring moet word nie. Dunspeek wielnawe word gebruik en die remskywe is duidelik sigbaar deur die speke.

Die tegniese spesifikasies sien soos volg daaruit: 5935 kub. cm, 48 klep V12  enjin wat 421kW @ 6750 o.p.m. voorsien en die wringkrag by 5500 o.p.m. is 620Nm. Werkverrigting inligting soos deur die vervaardiger voorsien is die volgende: Versnelling van 0 tot 100 km/uur neem 4,1 sekondes en topsnelheid is 295 km/uur. Dit is inderdaad ’n motor vir die fynproewer en spoedvraat – wanneer dit nodig is!