MediClinic bou groot hospitaal

In Kimberley heer ’n stille opgewondenheid met die aanskoue van die vordering wat gemaak word met die bouwerk aan MediClinic se vyfde grootste hospitaal wat daar in die Noord-Kaap opgerig word.

Na verwagting sal die nuwe, ultra-moderne hospitaal vroeg in Desember sy deure oopmaak vir pasiënte en geneeskundige personeel.

Algemene bestuurder, Stephan Deetlefs, sê die hospitaal word toegerus met vyf teaters en sal 146 beddens bied vir pasiënte.

Van die heel nuutste mediese en rekenaar tegnologie sal deel van die toerusting wees wat van die moderne hospitaal in El Toro Park, een van die bestes in die land sal maak.

Sowat 14 spesialiste, waarvan spreekkamers toegerus sal word, sal in die nuwe hoofgebou geakkommodeer word.

Patologie- en radiologie-dienste word ook aangebied.

Die hospitaal word ook toegerus met tegnologie wat geneeshere in staat stel om bloedtoets resultate en x-straalfoto’s elektronies op te roep in enige saal of teater van die hospitaal.

Die noodgevalle afdeling sowel as die intensiewesorgeenheid, het elk agt beddens asook twee private kamers.

Die hospitaal word toegerus met suigkrag buise om dokumente en medikasie van die sentrale apteek na verskillende sale en hoë-sorgeenhede te versprei.

Om seker te maak dat die Eskom krag se onbetroubaarheid nie die hospitaal in die donker laat nie, word rugsteun krag gehou met kragopwekkers en sonpanele terwyl sonverhitting verantwoordelik sal wees vir water verhitting in badkamers en teaters.

Die hospitaal sal hulle ook nie verlaat op die watervoorsiening van die munisipaliteit nie en word toegerus met watertenks wat 160,000 liter hou.

Kamers sal hoogstens vier beddens elk hou, ’n aantal is toegerus om slegs twee pasiënte te hou, en 17 private kamers word voorsien.