Maleisiese vliegtuig steeds weg

Lugvaartdeskundiges en die owerheid in Maleisië is steeds dronkgeslaan oor die skielike verdwyning van ’n vliegtuig wat sowat drie dae gelede spoorloos verdwyn het en nie deur die radarskerms opgespoor kon word nie.

Die vliegtuig, met 239 mense aan boord het verdwyn tydens ’n vlug tussen Kuala Lumpur en Beijing.

Die vermoede dat die vliegtuig moontlik gekaap is, word al sterker nadat dit bekend geword het dat twee persone aan boord is met vervalste dokumente, wat skynbaar aan twee ander persone behoort wat veronderstel was om die vlug mee te maak.

Die regering van China het intussen ’n versoek gerig tot Maleisië om die soektog te verskerp.

Berigte is ontvang dat die soektog nou uitgebrei word na die Straat van Malakka en gebiede van die Chinese Suidsee.

Na bewering word nege lande betrek by die uitgebreide soektog.

Vorige vermoedens dat die vliegtuig in die see gestort het, word nou bevraagteken aangesien daar geen spoor van wrakstukke gevind word nie.

Die Chinese owerhede is angstig om antwoorde te vind op die verdwyning omdat sowat die helfte van die passasiers burgers van China is.

Foto – ’n reddingsboot oppad om te help soek na die vermiste vliegtuig