Maleisië vliegtuig steeds soek

Die skielike verdwyning van Malaysia Air­lines se vliegtuig word al moeiliker om opgelos te word, of om antwoorde te vind.

Dit is die mening van ’n internasionale kenner oor vliegongelukke en kapings.

Hy sê die feit dat die vliegtuig dalk by ’n lughawe geland het waar asiel verleen sou word aan die twee vermeende kapers, kan net moontlik wees as die betrokke land se owerheid geneë was om die landing toe te laat, en dit later bekend sou maak.

Dit word egter weens verskeie redes bevraagteken. Owerhede, selfs Noord-Korea se regering sou moeilik kon swyg oor sodanige landing op hulle grondgebied as daar soveel passasiers betrokke is by die kaping.

Hy is van mening dat die tuig moontlik gekaap kon word, maar dat dit uiteindelik vir ’n onverklaarbare rede, iewers in die see gestort het.

Om ’n vliegtuig oor die wye oseane van die wereld te soek, is soos die soeke na ’n naald in die hooimied, het hy gesê.

Interpol het egter bevestig dat die twee persone met gesteelde paspoorte albei van Iran afkomstig is. Hieruit kan afgelei word dat die moontlikheid nie uitgesluit word dat Al-Kaïda betrokke is in die hele kaping nie, en dat die vliegtuig iewers in ’n gebied geland het wat nie algemeen bekend is nie.

’n Kaping is wel moontlik, veral as in gedagte gehou word dat die vliegtuig geen noodsein uitgestuur het nie, en omdat geen wrakstukke iewers opgespoor kon word nie.