Majubadag – Volksfees om te onthou

Die mis oor Majubaberg het nog skaars opgeklaar, toe sowat 50 leerlinge van VCO Gromar, die oggend van 28 Februarie, die bergtop inneem. Gewapen met swepe, Vierkleure en blikkieskos was almal gereed om die hele naweek deel te neem aan die jaarlikse Majubafees, ter herdenking van die Slag van Majuba, wat op 27 Februarie 1881 plaasgevind het.

Die Slag van Majuba was die laaste van vier militêre botsings tussen Groot-Brittanje en die Boere van Transvaal, gedurende die Eerste Vryheidsoorlog. Die klinkende oorwinning – en vernederende neerlaag vir die Britte – wat die Boere behaal het, het die Britte gedwing om Transvaal weer sy vryheid te gee, nadat dit op 12 April 1877 geannekseer is. Die Boere is aangevoer deur Kommandant-generaal Piet Joubert  en die Britte deur die beroemde Generaal George Pomeroy Colley. Colley sneuwel dan ook tydens hierdie veldslag.

Die naweek is deurgebring met lekker kamp-aktiwiteite, boeresport en skyfskiet. Ou vriende is opgesoek en daar is heerlik om die kampvure gekuier. Saterdag se kanon demonstrasie tydens die vlagsaluut en perdeparade was iets spesiaal. Die skynaanval en geskiedenis vertelling is deur ieder en elk met oorgawe gevolg.

Mnr. Bennie van Zyl, van TLU-SA, se  bemoedigende feesrede was ‘n inspirasie vir almal. ‘n Groot hoogtepunt, was Saterdagaand se Cantus  waarby verskeie skole en universiteite betrokke was.

Die sowat 75 feesgangers vanuit die Loskopvallei, het deel uitgemaak van om en by 2500 Boere-Afrikaners wat hierdie jaar die Majubafees bygewoon het.