Ma steel R1 miljoen

Sy is die ma van twee pragtige kinders, was self op haar dag dux-leerling, werk reeds 23 jaar by dieselfde werkgewer, en is nou vasgetrap omdat sy meer as R1 miljoen gesteel het.

Alta Beelders (40) het skuld beken op sowat 90 aanklagte van diefstal omdat sy finansieel swaar gekry het.

Sy het die geld van haar werkgewer, Berlesell oor ’n tydperk sedert Januarie 2010 tot November 2012 ingepalm.

Om dit terug te betaal is glo nie moontlik nie, en daarom het sy haar volle pensioen aan Berlesell afgeteken.

Die landdros het ook ’n beslagleggingsbevel gemaak wat meebring dat daar op haar besittings beslag gelê mag word om Berlesell se verlies aan te suiwer.

Die eienaar van Berlesell, mnr. Dries van Straten, sê mev. Beelders was ’n uitstekende werker en hy het haar oor jare ten volle vertrou.

Hy sê dat sy aangehou het om te steel terwyl ’n forensiese oudit aan die gang was.

Van Straten sê haar eggenoot werk ook jare lank by hom as bestuurder van die vertoonlokaal/

Alta Beelders was in 1991 in haar matriekjaar aangewys as die dux-leerling van die Hoërskool Navalsig, en na haar skoolloopbaan by Berlesell gaan werk.