Lyk die nuwe demokrasie so?

ANC raadslede van Kaapstad het hulle wangedra deur op meubels rond te dans tydens ’n raadsvergadering van die stad.

Hulle het ook dokumente wat voorgelê is vir die vergadering, rond gegooi en karton wat uitgeknip is soos AK47 gewere, in die lug rondgeswaai.

Patricia de Lille, die burgemeester van Kaapstad, moes later self rond kruip en dokumente optel wat rondgegooi is terwyl die dansende ANC lede steeds op die meubels rond gespring het.

Terwyl die ANC lede rumoerig gesing het met die dansery, het De Lille “shut up, shut up” bly skree.

Die oproerigheid het begin toe De Lille ’n konsep-begroting voorgestel het en daar gestem moes word.

Die ANC-lede het geskree die regte prosedure word nie gevolg nie want die dokument moes 72 uur voor die vergadering beskikbaar gestel gewees het.

Die speaker, Dirk Smit, het egter beslis dat hy reeds regsadvies ingewin het en raadslede moet voortgaan om te stem of die dokument beskikbaar gestel gaan word vir openbare deelname al dan nie.

Dit was die vuur in die kruitvat wat getoon het hoe die nuwe Suid-Afrika se beskawing lyk.

Die ANC-raadslede het  “Umshini Wami”, wat ’n oorlogslied is, begin sing en een lid het later sy vingers soos ’n pistool rondgeswaai en “doef-doef-doef” geskree.

Die chaotiese toestand het voortgeduur te midde van De Lille se versoek dat die vergadering moet voortgaan, maar die ANC lede se geskree het aangehou.

Uiteindelik het die speaker al die ANC lede versoek om die saal te verlaat aangesien die party se hoofsweep “beheer verloor het oor sy lede”.

Na etlike ure het die ANC lede teruggekeer na die raadsaal en die verrigtinge kon voortgaan.