Luiperd weer tuis na dekades

Die foto van ’n vooraf opgestelde spoorkamera in die Samara-privaat Natuurreservaat het ’n nagtelike toneel afgeneem van ’n luiperd wat goed wegkruip in die gebied.

Personeel van die Natuurreservaat, wat sowat 20 km buite Graaf-Reinet geleë is, was baie opgewonde toe hulle die nuwe ontdekking sien.

Ná bykans 40jaar kan die natuurreservaat weer met ‘n luiperd spog.

Volgens die direkteur van die reservaat, Sarah Tompkins, het hulle die grond vir die afgelope sestien jaar net laat rus. Gedurende die 1800’s het dit gewemel van roofdiere. Luiperds was van die vernaamste roofdiere in die gebied, totdat die laaste een in 1975 deur ’n jagter van kant gemaak is.

Die afgelope paar jaar was daar wel enkele tekens van luiperds in die gebied. Spore, krapmerke op bome en besoekers wat glo hulle het luiperds gesien, maar tot einde Januarie was daar geen tasbare teken van ’n luiperd in die reservaat nie.

Tompkins sê dit was eers toe hulle die spoorkameras se foto’s afgelaai het dat die bewys gesien is. Die spoorkameras is met behulp van die reservaat se spoorsnyers en die Suid-Afrikaanse Tourism ­Tracker Academy op strategiese plekke in die reservaat opgestel.

Volgens Tompkins word die ­kameras se foto’s aan die einde van elke maand afgelaai maar daar was geen teken van ‘n luiperd op Februarie se foto’s nie.

Die luiperd se terugkeer is volgens Tompkins ‘n teken dat die fauna en flora weer herstel het. Hulle hoop dat ander wild ook weer na die natuurlike habitat sal terugkeer. 

Diere soos die bruinhiëna, gevlekte hiënas, leeus en aasvoëls was almal eens deel van die reservaat se ekosisteem en Thompkins hoop dat die diere weer by ­hulle te sien sal wees.