Klipgooiers besteel winkel

Die klipgooiers van Bloemfontein het berug geword vir hulle klipgooi-rooftogte in en om die stad, waar hulle hoofsaaklik winkels beroof.

Hierdie keer was dit ’n selfoonwinkel in Fichardtpark wat deurgeloop het toe hulle die vensters van die winkel stukkend gegooi het en meer as R100,000 se elektroniese toerusting gesteel het.

Die klipgooiers, wat glo ’n bende is, het die glas met yslike klippe stukkend gegooi en selfone, iPads, rekenaars en ander kosbare toerusting weggedra.

Die vermoede bestaan dat dit dieselfde klomp is wat voorheen ’n klerewinkel gestroop het en sowat R90,000 se skade veroorsaak het. Dié klomp is nog nooit aangekeer nie.

Niemand is nog in hegtenis geneem vir die huidige strooptog nie, en daar bestaan kommer dat die polisie nie oor die wil beskik om hulle aan te keer nie, aangesien hulle reeds maande lank bedrywig is, en niemand nog gevang is nie.

’n Polisiewoordvoerder sê dit is moeilik om die klipgooiers aan te keer omdat vingerafdrukke gewoonlik ontbreek, en peper gestrooi word wat dit vir die honde onmoontlik maak om ’n spoor te volg.