Kleitrappery oor Clive

Daar is ’n kleitrappery oor die mediese versorging van mnr. Clive Derby-Lewis nadat hy deur ’n vermeende moordlustige in die gevangenes aangeval is met die doel om hom te vermoor.

Die Departement van Korrektiewe Dienste het ontken dat die Hooggeregshof hom beveel het om Clive Derby-Lewis (78) op hulle koste na die Eugene Marais-hospitaal te neem.

Skynbaar is die finale hofbevel dat mnr. Derby-Lewis self vir die vervoerkoste moet betaal.

Die kleitrappery kom nadat die hof ’n bevel gegee het dat die Departement van Korrektiewe Dienste mnr. Derby-Lewis onverwyld na ’n hospitaal moet neem waar hy medies versorg kan word.

Marius Coetzee, mnr. Derby-Lewis se regsverteenwoordiger, sê die hof het bevind dat die koste daarvan deur die Departement van Korrektiewe Dienste gedra moet word. 

Coetzee sê Derby-Lewis moes binne ’n dag ná verlede Donderdag se bevel na die Eugene Marais-hospitaal geneem word, wat nie gebeur het nie.

Derby-Lewis se vrou het ’n aansoek na die hof gebring wat vra dat hy na ’n private mediese inrigting geneem word. Dit is toegestaan, net om later weer omgekeer te word.

Mnr. Clive Derby-Lewis moes al, ingevolge die normale gang van sake, etlike jare gelede vrygelaat gewees het op parool, maar vreemde handelinge van sekere magte het tot nou toe gesorg dat dit nie gebeur nie, het ’n regskundige gesê.

Daar bestaan vrese dat mnr. Derby-Lewis weer aangerand kan word, met die doel om hom uit die weg te ruim terwyl hy in die hospitaal opgeneem is. Daarom is dit noodsaaklik dat hy deur ’n aantal betroubare polisiebeamptes of sekuriteitswagte bewaak word, het die regskundige gesê.

Hy sê die vermoede bestaan steeds dat sekere elemente agter die hele aanval sit wat in die tronk plaasgevind het, en juis daarom sal daar behoorlike maatreëls getref moet word om sy veiligheid in die hospitaal te verseker.