Jongman se dood word ondersoek

Mnr. T J Maree (18), ’n werknemer by Hydra Arc (Edms) Bpk in Secunda, het op onverklaarbare wyse oor ’n reling geval en is blykbaar opslag dood.

Maree het glo verlede Donderdag by Sasol se steenkool-aanleg op ’n vreemde, maar onbekende manier oor ’n reling geval. Hy is op die perseel dood verklaar.

Volledige besonderhede is nie beskikbaar nie en die ondersoek duur voort oor die vreemde voorval.

Hydra Arc, ’n spesialis instansie in algemene sweiswerk is tans op die perseel van Sasol besig met ’n kontrak, en Maree vorm deel van die werkerskorps. Hy is maar ses maande werksaam by die maatskappy.

’n Regspersoon van die maatskappy sê die ondersoek moet eers afgehandel word alvorens enige vêrdere besonderhede bekend gemaak kan word.

Maree se vader het in ’n onderhoud gesê sy seun was goedgeaard en het nie vyande gehad nie.