Januarie handelsbalans wek kommer

Ekonome het ‘n negatiewe handelsbalans vir Januarie 2014 van ongeveer R10-miljard verwag en nie die R17-miljard wat deur die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) op Vrydag, 28 Februarie, bekend gemaak is nie. Januarie is gewoonlik nie ‘n positiewe handelsmaand nie en alhoewel die land deesdae ‘n onvoorspelbare ekonomie het kan die situasie waarskynlik in Februarie verbeter. Aan die begin van Januarie is baie fabrieke nog gesluit en is dus ‘n bydraende faktor vir die handelstekort.

Die handelstekort vir Januarie was veroorsaak deurdat uitvoere slegs 0.1% beter was teenoor Desember, terwyl invoere aansienlik toegeneem het. Uitvoere het R77.7-miljard beloop en invoere was R94.7miljard. Die swak randwisselkoers het duidelik nie gehelp om uitvoere te verhoog nie, terwyl dit invoere, waaronder ru-olie, aansienlik duurder gemaak het.

Die opgelope negatiewe betalingsbalans het in 2013 byna verdubbel tot R69.9-miljard. Suid-Afrika finansier sy handelstekort met die buiteland deur beleggings en investering wat vanaf die buiteland kom. Dit het die sedert verlede jaar begin afneem weens risiko persepsies oor die land en sy posisie as opkomende land. Die rand se verswakking van 21% is ‘n bydraende faktor wat buitelandse geld invloei strem.

Die afgelope paar maande is die voordelige handelsaldo met die land se buurstate, Botswana, Lesotho, Namibië en Swaziland ook in berekening gebring en die het tot gevolg gehad dat verlede jaar se November en Desember positiewe saldo’s gehad het.

Soos van die meegaande grafiek afgelei kan word sukkel die land oor die algemeen met ‘n handelsbalans-tekort, maar dit het veral sedert die tweede helfte van 2012 begin versleg.