Hospitale sonder toiletpapier, maar wel slange

Dit gaan al hoe slegter by hospitale. Pasiënte in die Vrystaatse Psigiatriese Kompleks (PSK) in Bloemfontein lewe in vrees vir slange wat die kamers inseil omdat die gras nooit gesny word nie, terwyl twee groot hospitale in die stad het nie meer enige toiletpapier nie.

Pasiënte in die Nasionale- en Pelonomi-hospitaal moet nou hulle eie toiletpapier saambring as gevolg van die Departement van Gesondheid wat skynbaar groot finansiële probleme het.

Bronne in die PSK het gesê toestande in die hospitaal het die laaste tyd drasties versleg terwyl geld na die eenheid opgedroog het.

Slange seil in pasiënte se kamers in omdat die grasperke die afgelope jaar nie meer gesny is nie.

Terwyl die administrasie-afdeling by die departement al hoe groter groei, vrees dokters, verpleegpersoneel en skoonmakers dat hulle eersdaags sélf die gras sal moet sny en die hospitaal moet skoonmaak.

Maande lank se pleidooie by die Departement vir geldelik hulp, het op niks uitgeloop nie.

Ook die maatskappy wat kos aan die hospitaal verskaf, het opgehou om kos te lewer totdat die uitstaande rekening vereffen is aangsien hulle vir vier maande nie betaal is nie.

Intussen het die vakbond Nehawu aangekondig hy gaan ’n staking teen dié Departement uitroep omdat nooddienste aan die Buthelezi-ambulansdienste uitgekontrakteer is sonder dat aandeelhouers enigsins genader is vir hul mening.