Geheime intelligensieverslag verdoemend

Die geheime intelligensieverslag van die gesamentlike staande komitee oor intelligensie, met betrekking tot toestande in die Suid Afrikaanse intelligensiedienste wat verlede week in die parlement ter tafel gelê is, het verdoemende bewyse bevat wat op algehele wanorde in die departement en die verskillende intelligensiedienste van die Weermag en die Polisie se misdaadintelligensie-eenheid dui.
Luidens die verslag het die kantore van die departement gebuk gegaan onder verskeie inbrake die afgelope boekjaar waarin toerusting gebuit is en kantore brandskade opgedoen het – welke gebeure toegeskryf kan word aan swak sekuriteitsmaatreëls.
Verder beweer die komitee dat die ANC minister van staatsveiligheid dr. Siyabonga Cwele, se oorlaaide skedule daartoe lei dat hy nie sy verpligtinge na behore kan nakom nie. Hierdie versuim blyk ook tot uiting te kom in die gebrek aan dissipline in die agentskap.
Die verslag beweer verder dat daar verskeie bedrog- en diefstal sake teen intelligensiepersoneel hangend is. Blykbaar is die gesloer met ondersoeke en die afhandeling van tugprosedures ‘n groot bron van bekommernis, maar nog meer ontstellend, is die feit dat senior lede wat geskors is, of vir jare van die werk afwesig is, heel waarskynlik nog steeds salarisse verdien.
Binnegevegte in die polisie se misdaadintelligensie eenheid was ook die oorsaak dat die pos van bevelvoerder al vier keer gewissel het. Die komitee het ook beskryf hoe moeilik dit was om samewerking te verkry van die polisie se intelligensie afdeling, ten einde hulle werksaamhede te voltooi.
‘n Addisionele bekommernis, is die wanpraktyke van aktiewe lede van die polisie se misdaadintelligensie wat vervolging in die gesig kan staar as gevolg van die onwettige afluistering van privaat telefoonoproepe, aldus die verslag. ‘n Voorstel is ook ingedien vir die samestelling van ‘n kommissie van ondersoek na hierdie beweerde praktyke.
Dit is nie bekend of die verslag ook die werksaamhede van die OPOD, die onafhanklike polisie ondersoek direktoraat bevat, wat sedert einde Februarie deur veroordeelde terroris en blanke massa-moordenaar, Robert McBride gelei word nie.

Foto – Siyabonga Cwele