Ekonomie knou sakeondernemings

Een van die oudste maatskappye in die handel wat bederfbare voedselprodukte versprei, is besig om sy sakebelange drasties in te kort.

Die maatskappy, The Cold Chain het besluit om hulle tak op George te sluit na meer as 30 jaar in die omgewing.

Die maatskappy, wat vroeër bekend gestaan het as Imperial Cold Storage (ICS Foods), het reeds hulle tak in Dundee gesluit, en sal ook die takke in Oos-Londen en Klerksdorp gedurende Maartmaand sluit

Die maatskappy versprei meer as 30 verskaffers se produkte, en bedien ’n hele paar honderd kliënte waarvan Pick ’n Pay en Checkers die grootste is.

Die bestuurder van die George-tak sê die skielike bekendmaking van die sluiting het as ’n skok gekom en sal ’n aansienlike aantal werksgeleenthede verlore laat gaan.

Die kliënte sal glo vanaf Port Elizabeth en Kaapstad bedien word.

Dit blyk volgens die woordvoerder van The Cold Chain dat die stygende brandstofprys, aanhoudende styging in salarisse en lone, en die verswakking in die land se ekonomie daartoe bygedra het dat die takke gesluit word.