Ek wil vry wees!

Die digitale era, het verskeie nuwe sosiale gebruike tot gevolg. Een daarvan word ‘n “Selfie” genoem. ‘n “Selfie” is ‘n foto wat deur ‘n persoon van homself geneem word en kan ook ‘n geskrewe boodskap bevat. Die sosiale invloed van sosiale netwerke word in sekere kringe nog onderskat, maar die opstande in Egipte nie so lank terug nie, het duidelik bewys dat die gevolge daarvan nie onderskat mag word nie.

Ook in ons eie volkskring het dit reeds bewys dat daar waarde in is.

Selfs Die Vryburger sou nie kon ontstaan met die beperkte finansiële hulpbronne, was dit nie vir die digitale era nie.

Die redakteurs van die onderskeie Naspers publikasies is blykbaar baie ongemaklik oor sosiale media en die invloed wat dit het op die denke van mense, aangesien hulle dit nie kan beheer (of miskien omdat hulle dit nie kan onderdruk nie!)

Onlangs het ‘n spontane “selfie” aksie ontstaan onder die naam ek wil vry wees (#ekwilvrywees in sosialemedia taal). Volksgenote wat strewe na selfbeskiking neem ‘n foto van hulleself met ‘n stuk papier waarop daar geskryf staan “ek wil vry wees”. Die aksie het nou ‘n groep op Bakkiesblad (Facebook) en selfs ook ‘n webwerf  www.ekwilvrywees.co.za waar hierdie foto’s op geplaas word. Ook Twitter is oorspoel met van die foto’s.

Die aktivis Sunette Bridges het ook ingekoop op die aksie en haar ondersteuners aangemoedig om deel te neem.

Dit wil ook voorkom of die Boere-Afrikanervolksraad hierdie aksie steun.

Daar bestaan ‘n sterk vermoede dat hierdie aksie begin is deur die Verkennersbeweging van Suid-Afrika, maar niemand kon dit nog bevestig nie.