Ek sien dit so!

Die volgende is al keer op keer aan Neelsie gesê: As jy nie stem nie, mag jy nie kla nie.

Kom ons maak vir ‘n oomblik asof daardie stelling enige logika bevat. Sou ek dan ook nie kommentaar kon lewer oor sekere aspekte van die sirkus nie?

Gelukkig maak die redenasie net so min sin soos: As jy nie stem nie, gaan jou stem vir die regerende party.

Daar is met groot opgewondenheid verkondig dat die VF+ se naam heelbo aan die stembrief pryk. Hierdie opgewondenheid laat my net wonder of ons mense nie in ‘n groter klugspul vasgevang is wat hulle besef, of as wat ek ooit gedink het dit is nie.

Wat beteken dit vir jou as party as jou naam heelbo staan? Die redenasies wat ek die afgelope tyd gehoor het som dit as volg op: Daar gaan duisende dom stemmers wees wat ‘n kruisie trek by die naam heelbo aan die lys.

Nou goed dan. Die vraag wat dan soos ‘n tennisbal tussen twee rakette, wat my ore is, oor en oor by my verbyflits is: Hoe op dees aarde kan jy aan ‘n verkiesing deelneem waar jou stem presies dieselfde gewig dra as hierdie “dom” stemmers s’n?

Dankbaar is nie ‘n sterk genoeg woord om myself mee uit te druk dat ek nie deelneem aan hierdie sirkus nie.

‘n Kraswoord sal egter meer gepas wees om my groot dankbaarheid uit te spreek.

Selfs ‘n regte sirkus kan ‘n paar dinge gaan leer by hierdie sirkusagtige bestel se belaglike verkiesings.

Ek word gereeld gevra hoekom ons mense nie kan stem in die verkiesing en dan ook kan deelneem aan die buite-parlementêre opsie wat die VVK tot stand gebring het nie. Die antwoord hierop is dat jy kan. Die vraag wat op die antwoord volg is ook belangrik. Hoe dien jy twee here?

Vir my is dit ‘n persoonlike keuse, ek kan nie myself met hierdie bestel se verkiesings vereenselwig nie, daarom dat ek eerder al my gewig by die VVK en Volksraad ingooi. Ek het dus ‘n kant van die draad gekies en ek bly daar. As jy egter voel dat jy wil en moet stem in die OVK se verkiesing, het jy die volste reg om daardie opsie uit te voer, maar gaan registreer dan ook by die VVK.

Doen jou huiswerk en neem vandag nog die regte besluite vir jou nageslag. Die VVK se webadres is www.vvk.co.za

Boeregroete,

Kordaat Neelsie