Ek sien dit so!

Die verkiesing sluip nader, nou moet hy net kom en klaarkry sodat die verdelers vir die volgende vyf jaar kan stil wees.

Baie onlangs nog kry Neelsie ‘n skrywe van ‘n bestuurslid van ‘n nuwe party onder oë wat so swetsend is, dat selfs ‘n matroos sou bloos.

Dit is natuurlik nie verbasend nie aangesien ‘n hele paar van hierdie spesifieke party se bestuurslede se taalgebruik veel te wense oorlaat.

Ek wens net dat almal wat dit nog oorweeg om vir hierdie klomp vuil matrose te stem, vinnig genoeg uit hulle diepe slaap geruk word. Maar helaas, dit sal seker eers gebeur nadat dit te laat is – as dit ooit gebeur!

Dit is juis op dae soos hierdie dat ek baie dankbaar is date k nie deelneem aan hierdie sirkusagtige vertonings wat partypolitiek is nie.

Daar is ‘n tyd vir stry en daar is ‘n tyd vir ly. Stryery oor deelname al dan nie het gekom en gegaan, nou moet elke wegblyer in stilte gaan ly totdat 8 Mei aanbreek en alles verby is.

Ek wil tog ‘n beroep doen op ons mense om in hierdie dae baie versigtig te wees vir verleiers en misleiers. Dit wil al hoe meer voorkom of die regime sy agente opdrag gegee het om soveel as moontlik regdenkendes in die sop te laat beland. Net omdat iemand sê hy dink en voel soos jy, is geen tasbare bewys dat dit wel die geval is nie. So wees maar versigtig vir mense wat praatjies begin oor oorlog en wapens. Veral op die sosiale media.

Die laaste ding wat jy wil hê is om nou in die tronk te gaan sit vir onverantwoordelike uitlatings. Wees dus paraat en moenie met ‘n slap riem gevang word nie. Daar moet nou gefokus word daarop om soveel as moontlik mense te registreer by die VVK sodat die wettige roete momentum kan opbou.

Vind meer uit oor die VVK en Volksraad, gaan besoek www.vvk.co.za en www.volksraad.co.za

Doen dit vir jou man/vrou/kinders/kleinkinders/nageslag of selfs net vir jouself. Raak betrokke by die eerbare stryd!

Boeregroete,

Kordaat Neelsie