Ek sien dit so!

Nog ‘n Majubafees is agter die rug, en kan ons weer soos gewoonweg aangaan met ons lewens.

Die Ruwe SA se uiters sirkusagtige verkiesing is om die draai. Hierdie bose gedoente het so manier om selfs diegene wat as regdenkend beskou kan word, se koppe en gedagtes te laat afdwaal.

Neelsie is allermins ‘n politieke ontleder, maar soos dinge vir hom lyk, is ‘n sekere nuwe kamstige volksparty reeds oor die afgrond. Mens moet weet as jy jou by die grootste haters van ons volk skaar, net in ‘n poging om gratis deel te neem aan hierdie verkiesing, het jy reeds die stryd verloor.

Dankbaar! Dit is die gevoel wat ek ervaar wanneer ek daaraan dink dat ek nie eens geregistreer is om aan sulke booshede deel te neem nie.

Ons moet ook besef dat die woordjie samewerking, nie altyd goed en reg is nie. Talle volksgenote pleit vir samewerking onder mekaar. Die probleem hiermee is dat nie almal wat samewerking pleit en preek, dit eerbaar doen nie.

Samewerking ten koste van wat? Ten koste van jou beginsels? Met daardie tipe van samewerking wil ek niks te doen hê nie. Daar waar jy twintig tree agteruit gaan sodat die siele wat samewerking pleit twintig tree vorentoe kan gaan is nie samewerking nie, dit is kaping. En ons weet maar al te goed van slinkse plannetjies agter geslote deure. Dit immers die verhaal van ons volk die afgelope veertig jaar.

Die Volksraad het nou elke opregte volksgenoot se steun nodig met die komende hofstryd. As jy nog nie geregistreer is as kieser op die VVK se kiesersrol nie, maak nou werk daarvan! Die tyd is min, die hande minder, en die werk oorgenoeg. Dit is die honderdjarige herdenking van die Rebellie. Laat ons die wêreld wys wat in ons steek. Kom ons wys dat ons ook kan rebelleer soos genls De Wet, De la Rey, Beyers en Maritz gerebelleer het in 1914.

Vir meer oor die VVK en Volksraad, gaan besoek www.vvk.co.za en www.volksraad.co.za

Doen dit vir jou gesin, doen dit vir jou hond as jy moet, maar staan tog net van jou rusbank af op en doen iets!

Boeregroete,

Kordaat Neelsie