Egpaar in hospitaal na aanval

Vier terroriste het ’n egpaar van Glenvista verlede Saterdag aangeval en hulle verskeie kere geskiet sodat hulle vir dood agtergelaat is.

Die motief vir die aanval is onbekend want niks word uit die woning vermis nie en die vier aanvallers is blykbaar na die aanval haastig daar weg.

Die egpaar woon skaars ses weke in die huis.

’n Woordvoerder van die Mondeor-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), Michelle Pelser, sê die paartjie se tienerseun was tuis ten tye van die aanval, en het glo die vuurwapen van sy pa in ’n boonste vertrek van die huis gaan haal.

Dit is egter nie bekend of die seun dalk die vuurwapen gebruik het teen die aanvallers en daarmee veroorsaak het dat hulle skielik op die vlug geslaan het nie.

Die moontlikheid bestaan ook dat die pa self die wapen gebruik het.