EFF ondersteuner val dood neer

Terwyl die ondersteuners van Julius Malema se EFF rondgedans en gespring het op Kerkplein in Pretoria waar dié party die hof genader het oor die betaling van R600,000 vir deelname aan die verkiesing, het een van sy ondersteuners hom blykbaar dood geval tydens die dansery.

Die man se lyk was laatmiddag op die grond bedek waar EFF ondersteuners hom omring het na die nooddienste tevergeefs probeer het om sy lewe te red.

Na wat verneem word, het die man saam met sowat 120 ander ondersteuners, met anti-Zuma plakkate rondgedans toe hy vermoedelik oor die kettings by die Paul Kruger standbeeld gestruikel, en sy kop teen graniet gestamp het.

Metropolisie en nooddiens werkers het saam met EFF ondersteuners rondom die lyk gestaan en gewag tot ’n lykswa opdaag. 

Die EFF het by die hof aansoek gedoen vir ’n interdik sodat die party nie die vereiste deposito van sowat R600,000 hoef te betaal vir deelname aan die algemene verkiesing nie.

Die EFF betoog dat die bedrag te hoog is en buitendien onredelik en ook ongrondwetlik is.