Die feite oor Oekraïne en Rusland

Soms is dit nodig om feite te stel en emosie eenkant te laat. Die toestand in die Oekraïne is uiters plofbaar, en daarom hierdie feitelike uiteensetting van waarom die Russe so hardnekkig kleef aan sekere aspekte.

Die Oekraïne se stelling by die VN dat 16,000 Russiese soldate in die Krim ontplooi is, het ‘n tsoenami deur die Westerse media gestuur wat een feit ignoreer, naamlik dat die troepe reeds sedert die laat negentigs ingevolge ‘n Kiëf-Moskou ooreenkoms daar gesetel is.

Die feite, getalle en detail van hierdie ooreenkoms is as volg:

1) Die Swartsee-vloot was ‘n dispuut tussen Rusland en die Oekraïne sedert die val van die Sowjet-unie in 1991.

2) In 1997 is daar ‘n ooreenkoms oor die militêre bates in die Krim gesluit wat in 1999 deur die Russiese en Oekraïniese parlemente bekragtig is. Rusland het 81.7% van die vloot se skepe oorgeneem waarvoor hulle kompensasie van $526.5 miljoen betaal het.

3) Jaarliks skryf Moskou $97.75 miljoen van Kiëf se skuld af in ruil vir die reg om Oekraïne se water en radiofrekwensies te kan gebruik asook vir enige negatiewe omgewingsimpak wat hulle vloot in die Swartsee mag hê.

4) Ingevolge die oorspronklike ooreenkoms sou Rusland in die Krim gebly het tot 2017, maar die ooreenkoms is met 25 jaar verleng.

5) Die 1997 ooreenkoms gee Rusland die reg om tot 25,000 troepe, 24 artillerie sisteme, 132 gepantserde voertuie en 22 militêre vliegtuie in die Krim aan te hou.

6) Ingevolge die ooreenkoms het Rusland tans vyf vlooteenhede wat in die hawe van Sevastopol gestasioneer is.

8) Moskou het ook twee lug-basisse in Krim.

Die Russiese parlement het reeds vir Poetin toestemming gegee om troepe na die Oekraïne te stuur, ‘n stap wat Poetin nie wil doen nie en gesê het dat hy dit slegs as ‘n laaste opsie sal oorweeg.

Die bewindhebbers van die Krim-skiereiland, waar meer as die helfte van die inwoners Russe is, het Moskou om hulp gevra nadat die selfaangestelde regering in Kiëf ‘n wet geproklameer het wat alle ander tale behalwe Oekraïnies in amptelike omstandighede verbied het.