Clive Derby-Lewis aanval

In ’n persverklaring wat uitgereik is, is die aanval op mnr. Clive derby-Lewis en Janus Walus, weer skerp onder die soeklig geplaas.

Die Vryburger het die persverklaring vrylik vertaal en word hier volledig geplaas.

Dit lui as volg:

Op Woensdag 26 Februarie 2014 gedurende die middag is Clive Derby-Lewis en Janus Walus deur ’n mede gevange met ’n skerpgemaakte lepel aangeval. Beide het ernstige kopwonde opgedoen en bykomend tot dit is daar gepoog om Clive in die gesig ook wonde toe te dien.

Hy het egter met sy linkerarm dit probeer verhoed maar die aanval was so hewig dat sy arm in die proses gebreek is. Verskeie ernstige wonde is hom toegedien en sy arm is in gips geplaas. Die grootste bekommernis is dat moontlike infeksie in Clive Derby-Lewis en Janus Walus se wonde kan intree.

Die saak word deur die Gevangenis owerheid ondersoek maar die vraag kan met reg gevra word, as die Kommunistiese party en Advokaat George Bizos dit nie hulle werk gemaak het om alle aansoeke om parool teen te staan nie, sou Clive Derby-Lewis al heelwaarskynlik uit die gevangenis gewees het. Volgens wet moes hy al op 28 Oktober 2008 in aanmerking kom vir parool.

Dit was ook ’n aanbeveling van die Paroolraad dat Clive op parool vrygelaat moes word. Elke keer was dit egter moontlik vir Bizos om die stelsel so te manipuleer dat die aansoek van die hand gewys is.

Die proses is in werking gestel om die vorige Minister van die  Departement van Korrektiewe Dienste hof toe te neem oor haar uitlating dat Clive nooit op parool vrygelaat sal word nie. Clive is op die ouderdom van 78 jaar nog steeds in die gevangenis en dit is duidelik dat daar politieke motiewe agter die hele aangeleentheid is. Bizos roem daarop dat hy ’n voorstaander is van “geregtigheid voor die reg” maar dit word nie deur hom toegepas nie.

Daar word gewag op die uitslag van die ondersoek wat deur Korrektiewe Dienste uitgevoer gaan word. Die vraag wat egter gevra moet word is:” Hoe is dit moontlik dat die Kommunistiese Party en George Bizos elke keer daarin kon slaag om die vrylating van Clive op parool te dwarsboom en om sodoende hulle politieke oogmerke te bereik?  

Hierdie is ’n vraag vir Suid-Afrika!

Indien Clive gedood is in die aanval, waar sou die Kommunistiese Party en George Bizos hulle bevind het? Dit is ’n vraag wat hulle hulself moet afvra. ’n Verdere vraag wat gevra kan word is: Benodig Suid-Afrika op hierdie stadium in sy politieke geskiedenis ’n politieke martelaar?