Cholera eis lewens in Namibië

In die buurstaat Namibië het sowat 20 mense reeds die lewe gelaat weens cholera, en 550 gevalle is aangemeld, maar die owerheid sê die aangeleentheid is onder beheer.

Die uitbreking het reeds in November begin, en talle lewens geëis, terwyl die Wêreld  Gesondheidsorganisasie (WGO) te kenne gegee het dat die cholera uitbreking in ses streke van die land voorkom.

Die Kunene gebied in die noorde van die land is blykbaar die swaarste getref, met 15 sterftes en bykans 500 gevalle wat aangemeld is.

’n Woordvoerder uit die land het aan Die Vryburger gesê dit is die ergste uitbreking sedert die land se onafhanklikheid en daar is skynbaar honderde gevalle wat nie aangemeld is nie.

“Die land ken nie die siektetoestand nie, dit is ’n nuwe situasie”, het sy gesê.