Bloemfontein klipgooiers slaan weer toe

Eers was dit ’n klerewinkel wat ook parfuum aanhou wat gestroop is, toe is dit selfone en skootrekenaars by ’n selfoonwinkel, en nou het die klipgooiers die Harley Davidson-handelaar in die stad beroof.

Die klipgooiers het eers ’n veiligheidswag met messe aangehou, en daarna die vertoonvenster met ’n groot klip, wat een van die drie bendelede uit ’n rugsak gehaal het, stukkend gegooi.

Blykbaar het die boewe sowat 50 Harley Davidson-horlosies, wat gemiddeld R5,000 elk kos, gesteel wat hulle in dieselfde rugsak gesit het.

Die bende is besig met ’n skrikbewind in die stad, en staan nou bekend as die “Klipgooi-bende” van die stad.

Sakemanne doen ’n ernstige beroep op die veiligheidsmagte om daadwerklik op te tree en die boewe aan te keer.

Polisiewoordvoerders het voorheen genoem dat dit uiters moeilik geword het om die diewe op te spoor, aangesien hulle geen vingerafdrukke laat nie.

Die bende het in die afgelope paar maande winkels beroof waarvan die totale waarde op R1miljoen geraam word.