Besembossie / Otterbush / River star / Gomphostigma virgatum

Hierdie plant het darem besondere name want dit is ’n besondere plant. Dit is ’n immergroen, meerjarige silwergrys struik. Gomphostigma virgatum is uit die familie Loganiaceae. Die name Gomphostigma kom van die Griekse woord gomphos en virgatum beteken wilgeragtig. Nogal ’n goeie beskrywing vir hierdie plant se takke.

Besembossie word tot 2 meter hoog en het lang druipende takke. Dit laat ons nogal aan ’n besem dink, indien u nog die grasbesems van die outyd onthou. Die plant het takke is lank en dun en buigbaar en is silwergrys. Die blare is al langs die takke op versprei en is ook silwergrys en langvormig en smal. Gedurende die somer is hierdie plant oortrek met pragtige klein stervormige wit blommetjies wat baie geurig is. Die blommetjies het vier kroonblare, en word in die blaaroksels aan die takpunte gedra.

Die naam River star pas ook baie goed by hierdie plant, want hy word dikwels aangetref tussen rotse in vinnig vloeiende waterstrome. In tuine is dit gewilde plante langs stroompies en waterfokuspunte. Hierdie plante hou van sanderige klam grond en volson tot ligte skadu. Die plant kan in baie koue areas gedurende baie koue winters dormant gaan, maar sal weer in die lente groei. Om goeie groen aan te moedig moet dit goed teruggesnoei word in die laat winter.

Die plant kan gekweek word met steggies en u kan selfs die takkies afbuig en met grond bedek en sodra dit groei, dan sny u dit net los en so het u weer ’n nuwe vars plant. Gomphostigma virgatum  is tradisioneel gebruik vir moegheid. Daar word ook werklik besems gemaak van die langer takke wat afgesny word voor die blommetjies verskyn. As gevolg van die buigbare takkies, is voëltjies is nogal lief om hul neste in hierdie struik te maak.

Geniet u tuin gedurende die laat somer. Daar is nog heelwat groente en blomme wat nou nog gesaai en geplant kan word. Kyk uit vir saad van nuwe groente kultivars soos Beet F1 hibried “Touchstone Gold”, wat ’n oranje bol het en aan die binnekant goudkleurig is. Het u dit al gesien by u groentewinkel?

Tot volgende keer