Beeste lewendig opgekap

As ’n boer die oggend op sy plaas rond beweeg om na alles om te sien, en hy vind slegs die velle, kop en pote van sy drie stoetbulle wat verstrooid in die kamp rondlê, dan swel die are van woede oor sulke barbarisme.

Dit is wat mnr. Gert Putter van Kaaldoorns-Simmentalerstoet getref het toe hy verlede week op die dood gekapte diere se oorskot afgekom het.

Hy treur oor die wreedheid waarmee sy diere vermink is en hoe hulle in hulle onskuld moes ly weens die optrede van wreedaards.

Sy buurman het blykbaar eerste op die grusame toneel afgekom, en toe dadelik die eienaar geskakel.

Die drie bulle is lewendig opgekap. Die wreedaards is met die vleis weg terwyl ’n vierde bul dood gebloei het,” het die buurman vertel.

Drie ander bulle was ook met kapmesse beseer, en die wonde is so erg dat die plaasvoorman hulle moes doodskiet om hulle te verlos van die lyding.

Die wreedaards het plaasheinings geknip om gedurende die nag by hulle uit te kom.

Boere patrolleer die omgewing maar niks is tot hede gevind nie.

Tien jaar gelede het diewe 18 van sy stoetdiere geslag.

Die huidige slagting is ’n berekende skade van sowat R250,000

Putter sê die stoetbul telery is sy brood en botter, en dit word al moeiliker om kop bo water te hou, en sulke skade voorsien geen boer nie.