Bedrogklagte – dokter kry hospitaal aanstelling

Terwyl alles gedoen is om ‘n eerbare en briljante medikus soos dr. Wouter Basson te vervolg, tree niemand nog op teen ‘n mediese dokter wat hom as spesialis voordoen, terwyl hy nie oor die nodige kwalifikasie beskik nie. 

Dr. Ganesh Anil Anirudhra ‘n mediese dokter wat op 319 klagte van bedrog aangekla word, is by die Bongani-hospitaal aangestel. Hieroor is sy kollegas baie ontevrede. Volgens hulle is daar ‘n wolk oor sy naam en dit bring die hospitaal se naam in die gedrang.

Anirudhra (49) moet op 6 Junie weer in die hof in Brits verskyn. Hy is op borgtog van R20000 vrygelaat en sy paspoort is ingetrek omdat hy ’n vlugrisiko is.

Anirudhra is deur die Valke in hegtenis geneem op aanklagte dat hy na bewering vyf jaar lank private siekefondse (waaronder Bonitas) en die Departement van Arbeid se vergoedingsfonds, met vals eise uit duisende rande bedrieg het. Hy was vantevore van die rol geskrap weens veroordelings van bedrog wat tussen 1989 en 1991 gepleeg is.

In 2007 het hy weer geregistreer en is tydelik op ‘n proeftydperk geplaas.

Hoewel Anirudhra ’n gewone mediese dokter is, het hy glo by verskeie hospitale oor die land heen as ginekoloog gepraktiseer. In ‘n TV-program Carte Blanche waar sy bedrog oopgevlek het, het hy homself verdedig deur te sê hy is ’n oorgekwalifiseerde algemene praktisyn met ’n belangstelling in ginekologie en verloskunde.

Die woordvoerder van die Vrystaatse Departement van Gesondheid, Elke de Witt, sê Anirudhra voldoen aan die vereistes vir die pos van mediese beampte (algemene praktisyn) by Bongani. Volgens haar doen hulle nie roetine-ondersoeke oor voornemende werknemers se agtergrond nie en hy het dit ook nie aan hulle geopenbaar nie.

Sy sê hulle het in goeder trou opgetree en sal kyk hoe dit sy werk raak voordat hulle verdere besluite neem.

Waarnemers meen dat sy iets baie vreemd kwytgeraak het. Om nie sy bedrieglike agtergrond te openbaar nie, voldoen in sy geval reeds aan die definisie van bedrog, maar hulle wil nog nie ‘n besluit neem nie.

Na verneem word is hy betrokke by indiensopleiding van jong dokters leer hy hulle onder andere hoe om sonars op swanger vrouens te doen.

Foto – dr. Wouter Basson